About Us

KALAHARI-kinders ken van......


Kalahari-kinders ken van vroeg opstaan en vêr ry. Hulle ken van hekke oopmaak al is jy klein, kaalvoet en nog 'n dogtertjie ook. Kalahari-kinders ken van sand in hulle oë, ore, hare en sommer in hul maats sn ook.... Hulle ken van Ntaba's grou en skerpioen-wind. Kalahari-kinders ken van droogtes en lekker baie reën. Hulle weet hoe om skaap te slag en suurkos te maak. Hul hou van afval en vars-rugstringpot. Hulle ken van Afrikaans praat met die volk en dat jy nét Versamelvoëltjies mag skiet! Hul weet hoe lyk 'n Draaijakkals se draai en 'n sweepslang se sleepsel. Hulle verstaan van waters ry en weet jy moet 'n hoed dra. Kalahari-kinders leer van kleintyd af waar is Noord, Suid, Oos en Wes. En van watter kant af kom ons reën. Kalahari-kinders weet van sataliete en sien elke aand die melkweg!! Kalahari-kinders ken korrel konfyt, kerriekorrels en kerrievleis. Hulle weet van roosterbrood knie en skuinskoek bak. Hulle voete is kalahari son-taai en hulle vingers is roosterbrood braai-hard. Hulle weet Transvaal is "op boontoe" en Kaapstad is "af see toe". Hulle weet hoekom is die Oranjerivier se naam Oranjerivier en hoekom is Upington se aanloopbaan so lank. Hulle ken die mooi van Riemvasmaak se verlatenheid en die groen wingerde langs die rivier. Kalahari-kinders is dankbaar vir 2mm reën en vir toe skoene op 'n skerpioenaand!! Kalahari-kinders se sakke is vol klippe, nie vir kettie skiet nie maar vir die mooi daarvan. Ons ken van tuinmaak sonder blomme en plante indra in die winter. Ons ken van baaaaie vleis braai vannaand sodat ons koue braaivleis kan eet more oggend! Hul verkies 'n skaaptjoppie in vir skool eerder as wortels en shakes. Kalahari-kinders ken van voermeng en Tsama-konfyt. Ons ken van padkos inpak as Pappa gaan water ry en ons weet wat beteken tyd as ons 'gou' n Gemsbok gaan skiet en van pofadder braai. Ons ken van geleentheid soek vir medikasie en om vir ander mense pakkies op te tel. Ons weet van al die courier dienste en om op Takealot persente te koop. Ons weet hoe lyk 'n Kiewiet se eiers en ons weet hoe lyk dit as 'n blink-ogie 'n mot vang. Ons weet wanneer loop die skilpaaie en dat dit reën voorspel. Ons maak tyd om te stop en ons ken elkeen op sy dop.


Kalahari-kinders ken nie van wi-fi, skateboard ry en hoe 'n jakkals tjank nie...... MAAR ons KEN VAN..... Nagmaal, basaar, katkesasie en basaarvergadering op een naweek omdat almal te vêr bly. Ons KEN VAN liefhê, van braai, van skaapwerk en wildvang!! Ons weet hoe om ons tyd en kilometers te beplan. Ons KEN VAN buite slaap en huise sonder diefwering. Ons ken van fietsry waar ons wil en ons weet as Mamma alleen gaan draf sal sy NIKS oorkom nie. Ons ken van saamstaan en mekaar help!

Ons ken vir God en ons weet dat alles genade is, van die grootste Gemsbokbul tot die kleinte opslag-blommetjie. Ons ken van waardering en van water spaar!!


Kalahari-kinders KEN VAN!!!!!


Blessed will we be.


Kalahari Nooi 

Report abuse Learn more